1 'n Bedevaartslied. Van Salomo. As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou; as die HERE die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter.
2 Tevergeefs dat julle vroeg opstaan, laat opbly, brood van smarte eet- net so goed gee Hy dit aan sy beminde in die slaap!
3 Kyk, seuns is 'n erfdeel van die HERE; die vrug van die moederskoot is 'n beloning.
4 Soos pyle in die hand van 'n held, so is die seuns van die jeug.
5 Gelukkig is die man wat sy pylkoker daarmee gevul het! Hulle sal nie beskaamd staan as hulle met die vyande in die poort spreek nie. |